
B1 oop, veilig na klein hoeveelheid sianied gestort is
Loading player...
Die B1-pad noord van Otjiwarongo is weer oopgestel vir verkeer, het die padowerheid se woordvoerder, Hileni Filemon, aan die nasionale uitsaaier bevestig. Die pad was gesluit na 'n botsing tussen twee vragmotors, waarvan een sianied na B2Gold se Otjikoto-myn vervoer het. Twee mense is dood en 'n derde ernstig beseer. Volgens die omgewingministerie was die sianied in pakke verseël en net een pak was effe beskadig, waarna 'n klein hoeveelheid sianied gestort is. Gespesialiseerde spanne het die giftige sianied opgeruim en die terrein beveilig. Die gesondheidministerie het in 'n verklaring gesê media-berigte oor 'n sianied-storting moet eers geverifieer word. B2Gold se algemene bestuurder, Eric Barnard, het egter aan Kosmos 94.1 bevestig dat sianied gestort is.