Twee wat glo geld kan verdubbel bly in aanhouding in Nelspruit
--:--
Twee mans het gister in die Nelspruit-landdroshof verskyn op aanklagte van onder meer bedrog. Bosco Owino en Robert Ssebataazi, burgers van Uganda, is Vrydag aangekeer. Volgens die Valke het hulle hul verhuurder oorreed om sy erfgeld vir hulle te gee, wat hulle dan sou verdubbel. Hulle het glo ook veral vroue wat vir die regering werk, geteiken om te bedank en hul pensioenfondse aan hulle oor te betaal - om te verdubbel. Daar is tydens die deursoek-operasie op 'n groot bondel swart papiergeldnote, drie bottels chemikalieë en ‘n staalkluis beslag gelê. Die Valke vra ander slagoffers van die sogenaamde "Black Dollar"-skema om na vore kom. Die beskuldigdes verskyn Woensdag weer in die hof.